"Mamma, ek is 'n prefek!!" skree Lalla. Ek sien net draadjies en rekkies, en 'n keelgat. En so ses groot oge agter haar. Dis maatjies wat hulle verkyk.
Mamma klim uit die motor en wens sussie op 'n skaflike maar uitbundige wyse geluk. Ek moet in gedagte hou dat 'n tweeling uit TWEE bestaan. En so is dit toe ook. Naynie staan agter die ses oge, en die trane is reg om te stroom. Sy hou dit in toom met alle mag, maar wys ook duidelik dat sy besig is om selfbeheer toe te pas. Haar ma moet verstaan dat hierdie oomblik regtig
baie innerlike krag vereis.
"Ek is
nie 'n prefek nie" se sy en klim in die motor. Doef, en die deur slaan toe. Stilte. Ek en ousus en die maatjie wat saamry kyk vir mekaar, Leane kyk stip voor haar en Larisa sing kliphard en draai die venster af en skree geluk aan almal wat saam met haar posisie en status verwerf het.
Oeps.
"Sharrap!" skree Naynie. "As jy respek gehad het vir my gevoelens, sou jy stil gebly het. Maar nee, jy is alewig Lalla met die wonderlike dit en dat. Wonderlike Lalla met al die vriende. Fantastiese Lalla oor wie almal mal is. Kan jy nie sien jy is alles en ek niks nie?? Ek haat jou."
"Aag sharrap jouself!!" skree Lalla terug. 'Jy is net alewig Jantjie Jammergat. Ek mag mos nooit bly wees nie. As ek iets kry, trek jy tuitbek en tjank sodat ek sleg voel. Jammer Naynie dat ek 'n prefek geword het. Askies hoor. Sorry dat ek lewe. En baai the way, ek haat jou terug".
Toe skree ek maar dat almal nou dadelik moet ophou om mekaar te haat voor een doodgaan en nie vir die ander een kon se sy is lief vir haar nie, Deirdre sit haar doef-doef musiek op, en my hele klein motortjie skud af in die straat. Vader gee my krag.
Die hele naweek is 'n tyd van jaloesie, venyn en onverwagse krisisse. Die hele ellendige gebeurtenis affekteer die huishouding so dat die bull terrier sommer 'n week vroeer in kraam gaan. En wat sal ons ontdek?? Sy en haar gade het die saak heeltemal oordoen, en sommer twaalf in plaas van ses spruite gemaak. Drie is vreeslik klein en oorleef nie langer as drie dae nie, en drie word doodgebore. Ek huil Sondagmore in die kerk om. Na ek agtien jaar oor my pa gehuil het, het ek gesweer ek huil nooit weer nie. Nie eers op my broer se begrafnis nie. Maar ek huil oor my troeteldiere. Hartstogtelik.
Teen Maandag het die Ma-hond kalsiumtekort, die Ma in die huis is 'n zombie van geen slaap, en die kinders in die huis is monsters van jaloesie. En toe kom die groot saak.
"Mamma. Juffrou het vandag vir ons konsertkaartjies uitgedeel. Ons twee het twee kaartjies. Mamma en Pappa moet kom. Asseblief. " (Asseblief gekommandeer, nie versoek nie. Mamma en Pappa is al tien jaar geskei en beide weer getroud. En woon in dieselfde straat, 6 blokke van mekaar af.)
"O ja. Daar is een ekstra kaartjie beskikbaar as daar min ouers kom. Dan kan Pappa vir Ouma bring. Naynie, bring die foon, ek bel vir Pappa."
Ek het so pas vir Ousus uit die spesiale skool gehaal weens komplekse redes, middagete gemaak, gou 'n kantoor bestuur, 'n teologie vraestel gemerk, gaan draf, en 'n klient gesien. Ek is sonder woorde, stomgeslaan en doodmoeg en smag net na 'n koppie koffie. My versoek vir vyf minute se rus en dan 'n rustige bespreking van die saak val presies op dowe ore.
Dertig sekondes later, en die reelings is voltrek. Pappa is uiters trots. Hy het laas afgery Pretoria toe om Boetie te gaan gelukwens met sy prefekskap, en hy sal definitief die geleentheid bywoon. Die feit dat ek absoluut enigeiets sal doen om 'n skoolfunksie te vermy, selfs maaggriep sal verduur, help niks. Ek gaan saam.
Donderdagmiddag bel Pappa my. Ek stel voor hy en sy gade gaan saam, sodat sy nie ongemaklik voel nie. Die spruite kan Saterdag saam met my na Newcastle gaan, en ons kan gaan fliek en roomys eet, en die prefekskap (o ja en Naynie se goue medalje vir Koorsing, wat sy verkies het om
nie te noem tydens haar oomblikke van martelaarskap nie) te gaan vier. Maggies, mens moet mos maar leer om te presteer en agterna ook gelukgewens te word??
O nee. Pappa se dat albei ouers by so 'n geleentheid MOET wees, daar is in alle geval nie sprake van jaloesie en afgunstigheid tussen ons nie. Ek gaan saam en basta.
Jippie. My kinders klim in my klerekas in en ek moet een uitrusting na die ander aanpas. Sondag se kerkrok is te 'formeel'. Eintlik te 'serious'. Die blou rok met strappies en oop rug is sexy en perfek, ek moet net mooi sit dat niemand die vlek voor sien nie. Sorry hulle het die rok laas geleen, en vergeet om dit te laat was. NEE skree ek. Die ander blou rok pas nie meer oor my heupe nie. Jarre en jarre al nie. Demmit hoeveel keer moet ek dit nog se??
Ek spring in my swart langbroek en swart-en-wit kolletjies bloes in, doen my hare (met ekstra spikes), en spuit parfuum aan wat Pappa nie sal laat nies nie. Jaag Pick & Pay toe en koop 'n bordjie koek, laai die tweeling betyds af om hulle stemme op te warm vir die koorsing, en daag tien voor ses met pragtige oorbelletjies in my ore en pienk lipstiffie aan voor die skoolsaal op.
Pappa wag reeds daar. Ons word meegedeel deur die personeel dat die sitpleknommers nie meer geldig is nie, aangesien daar te veel ekstra stoele ingedra moes word. Ek en hy kry in die derde agterste ry sitplek. Net toe ek nou mooi gemaklik is, en ons darem rustig en vriendskaplik die program deurgelees het sonder om te stry wie dit eerste mag lees, kom sit twee van my man se kliente voor ons. Wat vir twee jaar al nie hul rekening betaal het nie. Vooraanstaande mense in die kerk. Hulle groet vir Pappa, maar skielik ken hulle my glad nie. Ek file dit vir future reference bietjie later die aand.
En toe ek omdraai, kyk ek in my mees goddelose vriendin se gesig vas. Dit kan nie wees nie. Dit kan net nie wees dat die noodlot dit so beplan het dat sy agter my sit nie. Sy trek vir my 'n gesig en stuur 'n bbm. "Sit jy lekker he?" Nogal met 'n duiweltjie langsaan. Ek stuur 'n lelike woord terug met 'n boodskap dat "jou dag kom" en sit terstond my foon af. Kinders van die Here gedra hulle. Maar heeltyd voel ek hoe haar bruin oe op my wang brand en ek weet sy lag vir my dat die trane loop.
Die geseende prysuitdeling begin. Langs Pappa sit 'n ou met 'n vreeslike, maar vreeslike demoon agter sy oor. Ek sien dit sommer na twee minute. Ons sing 'n psalm en luister na 'n kort prekie, en toe die derde klas hulle pryse kry is Absalom gatvol gesit. Ek is nogal trots op my vorige gade, hy sit tjoepstil en gedra hom goed. En voor ons sit 'n hele ry van die stoutste pa's in die dorp. Almal alkoholvry, hulle netjieste T-hemde aan vir die aand, net een ou se kuif wil nie platle nie. Ek kry nogal amper so 'n sagte plekkie vir onmoontlike mans wat definitief na 'n paar preke gaan luister het of flieks gekyk het die laaste ruk, en effort maak om hulle kinders te kom ondersteun. Jy kan se wat jy wil, maar dit maak mens se hart sag as 'n klomp stoutgatte hulleself netjies maak en kom probeer mooi pa's wees vir die aand.
Op hierdie punt vang Absalom Pappa se oog. En myne. Want sy laaitie kry net toe 'n allemintige prys. Sommer vir vier vakke. Hy krap so oor sy kop en se: "Nou weet ek wat gaan aan. My kind het al my breins gekry want ek het POKKOL oor." Die ry voor en agter ons hoor dit, en kruip almal onder hulle stoele in en huil van die lag. Elke keer as 'n aspirant Einstein opstaan, dan knik hy en Pappa vir mekaar en se: "Ja, nog 'n blerrie dom pa". Op 'n kol toe se Absalom: "Jis wag, daar is fout. Ek ken daai laaitie se pa. Daai ou is nie so dom nie. Sy kind het die verkeerde prys gekry."
Die aand gaan om, en ons kom by die afsluiting. En die GROOT TOETS. Want nou gaan ons die ONSE VADER sing. So drie jaar gelede was Mamma natuurlik weer die model-voorbeeld-ma van die jaar, en het vir 'n jaar sanglesse gaan neem saam met haar spruite by 'n vocal coach. Jip ja. En konserte gaan hou. EN voor Pappa en sy vrou en ouma gesing ook. Mammas doen mos enige iets vir hulle kinders. Veral hierdie ma. Sy glo liefde le in aksie.
Suiwer, suiwer per ongeluk ek skielik van die heilige hier voor my wat telke male saam met my in die kerk was. En ek onthou ook per ongeluk hy hoor nie SO goed nie. So ek posisioneer myself gemaklik en redelik na aan die liewe paartjie. Pappa ken nie meer die Onse Vader uit sy kop nie, of hy hou nie so baie van sing nie. Dit gee my kans om die volume GOED op te skuif. En toe ons by die gedeelte kom van 'vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe, en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose," toe GOOI ek hom, VOL VOLUME. Kragtig. Ek sing dat my date vir die aand se oe sommer vol trane word.
Aan die einde van die aand stap ons vriendelik en vrolik daar uit, ek groet my stoute tjom, vermaan haar om in vrede met haar verlede te leef, soen my kinders, en kry 'n warm, warm gevoel in my hart. Want hulle kon hul eie Mamma en Pappa saam he op 'n funksie wat vir hulle belangrik was.Ek dink hoe belangrik dit is om maar te vergewe, jou eie nonsies in jou sak te druk, en hoe lekker dit is om jou kind bly te sien. Demmit, dit is lekker as jou kind gelukkig is. Ek is bly oor julle 'n mooi, heel aand gehad het. Uit my hart uit.
Mamma.