Griet se Oorsprong
Griet moet haarself bekend stel. Veral vandat sy met 'n skok verneem het dat haar naam dieselfde is as die skuilnaam van die vermaarde skryfster, Marieta van den Vyfer. Griet wil dit graag baie, baie duidelik maak dat sy glad nie in kompetisie is met Marieta, of probeer kompeteer met haar nie.
Griet is 'n doodgewone ma, wat woon in 'n doodgewone plattelandse dorpie. Sy het 'n dogter van so om en by een en twintig jaar, en is geseen met 'n buitgenwoon kreatiewe tweeling wat agt jaar later opgedaag het.
Dis tydens een van die tweeling se prysuitdelingsessies dat hierdie gewone ma in 'n Griet ontaard het. Die leser kan gerus die verhaaltjie "Griet se konsert" lees, wat voldoende agtergrond sal verskaf oor hierdie gebeurtenis. Dan sal die saak nou van hier af verder ingekleur word.
Op die betrokke prysuitdeling, ("Griet se Konsert") kon kinders links en regs trofee ontvang. Hierdie doodgewone ma het langs haar doodgewone eks-man gesit, en beide het hulle verwonder aan hoe slim ander mense se kinders is, toe die skoolhoof skielik aankondig dat die "Griet Swart Wisselftrofee" vir Geskiedenis nou uitgedeel sou word. Sy en haar gade van die verlede het mekaar aangegaap, en sy het terstond in 'n klipharde lagbui uitgebars wat sy verander het in 'n ernstige tering-agtige hoes. Voor sy met daardie trofee huis toe sou moes stap as kind, het sy waaragtig waar liewer Geskiedenis gedruip.
Stel jou dit voor. Ma en Pa sit in die sitkamer. Sondagmiddag en Ouma en Oupa en Tant Koekie en Oom Ben en die Nefies en die Niggies kom oor. En Pa maak keelskoon en se ewe trots: "Hmm. Nou ja. En daar wen Levinia toe die Griet Swart wisseltrofee vir Geskiedenis". Ek meen. Ek skaam my so dood, ek klim liewer deur my kamervenster en vlug as ek die gaste sien aankom. Daar is egter nog 'n geheim ook aan die skreeusnaakse saak verbonde.
In die giggelende, hoesende ma se hartseer en weeskindagtige verlede, was daar darem een ding wat sy goed kon doen. Verskriklik, vreeslik uitstekend goed. Sy kon lees. Vinniger en meer as enige kind in enige skool. Sy het gelewe vir lees. En toe ontdek een of ander aapstert van 'n onderwyser sy kan VOORLEES. En siedaar, hulle stuur die ma weg vir 'n kunswedstryd. Daar wen sy die eerste prys, 'n goue A, toegeken deur ene Miems de Bruyn, van Nommer Asseblief faam.
Toe die ma terugkom by die skool, gebruik elke liewe juffrou haar om te kom boekvoorlesings doen in hul klasse tydens boekvoorlesingsperiodes. En watter storie is daardie jare gewild, bekend, selfs beroemd? Ja, raai. Liewe Heksie. Die ma leer soos liewe Heksie praat. So bleddie oulik, dat haar pa in sy vyftigs vir sy sexy jong vroutjie beduie sy sal maklik weet as sy dogter bel. Sy klink net soos Liewe Heksie. Die ma kan soos Blommie en Kwaaikie Kabouter praat. Karel Kat raak sy meesterlik baas. En Griet, die perd, is in besonder glad nie 'n probleem nie.
Dis met die gedagte aan Griet, dat die ma toe amper van haar stoel afval en haarself papnat piepie, veral toe sy verneem dat haar Griet nou 'n wisseltrofee in die Geskiedenisklas geword het. Sy is terstond huis toe, en het haar lewe deeglik in oenskou gaan neem. Iewers het sy iets gemis. Erens het iets aan haar deur kom klop en sy het dit nie gehoor nie. En toe gaan die lig vir haar op.
Ons leef nie meer in die era van boekvoorlesings nie, behalwe vir blindes. En dis gewoonlik ook net die Bybel in Zoeloe. Vir Zoeloe sien sy nie kans nie, sy leef tussen hulle en een woord is al ses-en-sestig letters lank en kan twaalf dinge beteken. Nee, glad nie. SKRYF is die oplossing.
Vir publiek skryf sien sy egter nog nie heeltemal kans nie. Griet was ietwat van 'n dowwe perd in Liewe Heksie se verhaal. As die ma dit nou nie mis het nie, was Griet 'n holrug perd, wat nie altyd mooi wou teruggetoor word nie. Shit. So tot tyd en wyl Griet geolie raak in haar kuns, bly Griet Anoniem. Daarna kan sy Werklikheid word.
Die ma pluk haar skootrekenaar oop. Sy begin stories tik en dis vir haar verskriklik lekker. En sy teken alle apologie aan teenoor alle beroemde skrywers wat in Frankryk bly, want sy bly in Kwa-Zulu Natal en eet nog Transvaalse mieliepap as die gier haar pak.

1 Comments:
Excellent!
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home