Tuesday, November 25, 2014

Griet se Kaas-en-Wyn Kursus

Jare en jare gelede, toe die wereld nog jonk was en Griet nog menthol-sigarette gerook het sonder om soos die hel te ruik (of plooie te kry), sexy gelyk het in 'n kort rok en  kon wegkom met net maskara aan haar gesig in die publiek, toe het sy 'n "diep" kursus bygewoon.

Vreemd. Want Griet was glad nie in 'n baie diep fase in haar lewe nie. Sy was eintlik maar ten diepste geinteresseerd in haar voorkoms, en hoeveel mans sy met die voorkoms kon beindruk sonder om ontrou te wees aan haar eie man. Wreed en  waar, maar die lewe het haar goed en deeglik teruggeklap en sy het opgeeindig as die pampoen en nie Aspoestertjie nie.

Tydens hierdie gevaarlike fase kry Griet toe 'n boek in die hande. Die titel: 'Who moved my Cheese?' Sy begin dadelik lees, want vir haar beteken enige iets met Kaas noodwendig ook Wyn. Sy is besig om 'n kursus te doen in die Kaapse Wynmeesterskuns, wat haar gesellig lighoofdig maak op Woensdagaande wanneer ses wyne geproe en bespreek word. Griet blink nie noodwendig uit in die kursus nie, maar sy blink uit in die konsumpsie van die wyn (en verversings.)

Sy verstaan amper nie 'n snars van die boek wat sy lees nie, behalwe dat twee mal muise met tekkies aan weet hoe om te hardloop waar daar kaas is. En twee dom ouens te lui is om te gaan kyk, en hulleself depressief en dom maak om te sit en stry. En sy verstom haar, want as sy honger is sal sy enige iets doen om kos in die hande te kry. Punt klaar. Griet het 'n gesonde konstitusie, sy sukkel nie eers met 'n harde maag nie, wat nog om te eet. Die filosofie ter sprake gaan geheel en al by haar blonde kop verby.

Die lewe stap aan, en Griet word gatoorkop van een situasie na die ander gegooi. Jy kan dit amper beskryf soos as 'n rit in die big-dipper met 'n bikini aan, sonder 'n sitplekgordel en met baie sunlight-seep en skuim. Veral skuim, Net honderd maal erger. Griet val nie, sy katapult. Nie net een keer nie, sommer 'n paar. En as sy dink sy is nou finaal des moers, dan tel een of ander Hero haar op, net om haar weer soos 'n frisbee 'wieeeeeee' te laat los. Sy huil en skree en trek haar hare in knolletjies uit haar kop. Sy beseer haar brein soos sy dink. Sy hardloop na komkrimpers wat haar geld steel en vir haar se: "Mmmm.... dus se u dat...." Sy gaan sit in die kerk en sing psalms maar bedoel niks, want sy wil nog steeds HAAR sin he. Kort voor lank strip Griet haar moer geheel en al en drink sommer heeltemal te veel en skei en trou en skei. En maak kleintjies.

Die eerste kleintjie kry seer. Sy is nie heel lekker reg nie, en Griet moet haar lewenslank versorg. Die ergste is, sy kry emosioneel die seerste. Griet verwyt haarself verskriklik, en trou met Hannibal the Cannibal. Verskil is net hy eet vrouens en dogtertjies. Nou kan sy lekker in selfverwyt lewe en haarself elke dag vertel hoe sleg sy is, dan gaan sy mos vir haar sondes betaal en beter voel, dink sy terwyl sy sommer nog twee kleintjies gelyk grootmaak. Hannibal skop haar onder haar gat en amper vat hy haar kinders af.

Griet gaan doen selfondersoek en studeer teologie. Griet studeer 'n hele paar jaar. Sy word diep. Sy word ernstig. So nou en dan kom haar kommin kant nog steeds uit, want sy kan 'n grap nie weerstaan nie. En as sy lag, sien jy 'n stopsel of twee. Maar Griet doen goed. Sy is op 'n beter roete. Tot een dag. Toe pos Griet se Mentor vir haar 'n boek. "Who moved my Cheese".

Griet gaan sit op haar gaai op die gras. Sy is grasgroen. Haar maag draai. Haar dag het gekom. Die Oordeel is hier. Baie, baie versigtig maak sy die eerste bladsy oop. S-T-A-D-I-G begin sy lees. Lettertjie vir lettertjie lees sy die boodskap. Die boek se boodskap is:

Want. Sy. Wonder. Of. Sy. Nog. Dieselfde. Griet. Is.

"Watter Griet?? Watter Griet??" skree haar brein.

"Die onnosel een" skree haar emosies terug.

"Hoekom??" skree haar brein.

"Want is jy nog banggat" skree haar hart.

"Bang vir wat??" skree haar brein.

"Bang vir beweeg as jy moet sit, en sit as jy moet beweeg" skree haar hart.

Shit, dink Griet. Die hele probleem in my lewe was al die tyd nie my omstandighede wat so baie verander het nie. Om die waarheid te se, ek is goed met omstandighede wat draai. Ek is goed met kop-onderstebo-wees in pretparke. MAAR HOEKOM DE JOOS WONDER EK ALTYD AGTERNA OF EK NIE ANDERKANT TOE MOES GEMOVE HET NIE??? My probleem le nie by 'WHERE IS MY CHEESE" nie. My probleem is:"WHAT KIND OF CHEESE DO I WANT?"

Toe gryp Griet 'n papier. Heel bo-aan skryf sy:
GOED WAARVAN EK HOU.

Eerste skryf sy:
1. EK HOU VAN BLOU. Want Griet het in har kinderdae haar kniee deurgesmeek dat haar kamer blou geverf word, en sy het 'n immer-allergie vir pienk.

2. EK HOU VAN MANS. Sy het gelees uit Audrey Blignaut se boek. Sy stem volkome saam met haar. Hoekom is mans interessant? Omdat dit interessant is om te sien hoe hoog is hulle kniekoppe, hoe ver trek hulle hul broeke op, hoe kam hulle hul hare, wie groet wie eerste, watter een is die sterkste, die snaakste, die stilste, die slimste, en wie se vrou sit op sy kop.

3. EK HOU VAN BROOD. Griet se grootste begeerte is om 'n hele witbrood met vars botter en appelkoosjam alleen in 'n hoek te gaan sit en opeet, glad nie skuldig te voel nie, en nie 'n happie met iemand hoef te deel nie.

So hou sy aan skryf. En later word dit maklik om te se waarvan sy hou en waarvan nie.

Die ding is. Griet het grootgeword in 'n wereld waar sy nooit kon kies nie. Sy moes vat wat sy gekry het. En as sy dit nie wou vat nie, het sy 'n pak gekry. Kies was nooit 'n opsie nie. So baie keer het Griet vir Kaas gevra, en meel gekry. Of brood gevra, en tamaties gekry.

Want sien, as jy nie eers weet van wat se soort kaas jy hou nie, hoe kan jy weet of iemand dit geskuif het?

As jy weet waarvan jy hou, dan soek jy dit. En as dit geskuif het vanwaar dit was, dan gaan soek jy dit. Tot jy dit kry waar dit nou is. En dan skree jy: "Een twee drie, blok myself!!!" En lag oopbek.










1 Comments:

At November 25, 2014 at 8:22 AM , Blogger Hester Ley Nel said...

Uitstekend. Ek het dit geniet. Ek moet ook weer 'n keer daai boek gaan lees.

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home